2.
HOOFSTUK 1
LANK, LANK GELEDE…
Lank lank gelede, was daar niks, behalwe God. Voor tyd bestaan het en voor enigiets geskape is, was daar net God - en God alleen. Hy is die Alfa en Omega, die begin en die einde (Openbaring 21:6). Daar is vier eienskappe van God wat van die begin af en tot in
ewigheid geldig is. Die eerste een is dat God in wese gees is (Joh. 4:24). Daar is klaarblyklik geen materie, geen molekulêre onderdeel in God se wese nie. Hy is gees. Dit beteken nie noodwendig dat Hy geen vorm het nie. Die Bybel praat van ʼn geestelike liggaam (1 Kor. 15:44) en met meld dat God liggaamsdele het: ʼn arm, hand, rug, gesig, mond ensovoorts (Eks. 33:23; Jer. 21:5). God, wat die Begin en die Einde is, is gees. Dus is gees die hoogste vorm van bestaan. Maar as God gees is, dan is gees die hoogste vorm van bestaan. Materie en vlees is laer vorme van bestaan. Die tweede eienskap van God wat ons in gedagte moet hou, is dat God drie-enig is: Vader, Seun en Heilige Gees. Die konsep van drie-enigheid is vir die mens ʼn misterie, want daar is niks in ons lewenservaring waarmee ons dit kan vergelyk nie. God verander nie (Mal. 3:6) - van die begin af was Hy drie-enig. Die derde eienskap is dat God liefde is (1 Joh. 4:8). Die mens besing die liefde tussen ʼn man en vrou en dit is die tema van vele lirieke, gedigte, romans en rolprente. Maar God was van die begin liefde en Hy is die bron van alle ware liefde (Rom. 5:5, Jak. 1:17). Ons kan byvoeg dat die liefde tussen mense (Grieks: phileo) nie op dieselfde vlak is as die onselfsugtige goddelike liefde (Grieks: agape) van God nie.
Probeer jouself die begin indink, toe daar net God was, die Een wat liefde is. As ons aanvaar dat daar ʼn volmaakte liefdesband is tussen die drie “Persoonlikhede” van die Drie-eenheid, wil dit tog voorkom asof God se liefde so oorborrelend was (en steeds is) dat Hy sy volmaakte gehalte van lewe ook met ander wesens wou deel. Hierdie wesens sou deel wees van Sy huisgesin. Wesens wat Hy kon liefhê en wesens wat Hom sou liefhê tot in ewigheid.
God die Vader wou sy huis in die hemel gevul hê met liefdevolle kinders. dit ʼn begeerte om liefdevolle kinders in Sy huis te hê. Vir die Woord (die Seun van God) was Sy begeerte primêr om die Vader te behaag, maar klaarblyklik ook om getroud te wees met ʼn liefling vrou en die intiemste liefdesverhouding met haar te geniet. Baie soos die sprokiesverhale wat altyd eindig: “...en hulle het vir ewig en altyd gelukkig saamgeleef…” Die primêre funksie van die Heilige Gees is om ʼn leermeester te wees, asook om gelowiges te bemoedig en die ongelowiges te oortuig. Een ding is seker: as God liefde is en die bron van alle liefde is, is sy liefde oneindig sterker en meer intens as die diepste vaderliefde, moederliefde, romantiese liefde of huweliksliefde wat daar ooit op die aarde was en sal wees. Die vierde eienskap van God is dat Hy lewe is. In Hom is lewe (Joh. 1:1) en Hy is lewe (Joh. 11:25). God die Vader het lewe in Homself en Hy het dit ook so beskik dat die Seun (Christus) ook lewe in homself het (Joh. 5:26). God is die hoogste vorm van bestaan is. Die lewe wat God het, is die hoogste vorm van lewe. Ons kan in die natuur waarneem dat daar verskilllende lewensvorms is. Die laagste vorm is dié van plante. Plante het geen bewussyn nie. Dan kom visse en voëls wat ʼn mate van
selfbewussyn en omgewingbewussyn het. Dan is daar diere wat tot ʼn mate kan dink en wilsbesluite kan maak en dan kom die mens.
Die mens, wat na God se beeld gemaak is, is tans die hoogste fisiese lewensvorm op die aarde. Engele se lewensvorm is nog ʼn trappie hoër as dié van die mens (Hebr. 2:7). Baie lank gelede, het God die hemel en die engele gemaak (Kol. 1:16). Op daardie stadium was daar geen uitspansel met planete en sterre nie. Engele was nie geskape om soos robotte te wees wat geprogrammeer kan word nie. Die definisie van liefde vereis ʼn keuse. Dus kan ʼn robot nie liefhê nie (anders as wat in die rolprent Bicentennial Man uitgebeeld word). Die toppunt van God se skepping was ʼn engel met die naam Lucifer. Hy was ʼn pragtige, briljante, skitterende gérub, bekleed met edelgesteentes. Hy was toegelaat om in God se tuin en op sy heilige berg te kom (Esegiël 28: 11-15). Lucifer, wie se naam beteken seun van die more (Jes. 14:12), het toegang gehad tot God se intieme teenwoordigheid - totdat boosheid in hom gevind was, toe hy gedink het hy kan God onttroon (Esegiël 28:15; Jes. 14:13). As gevolg hiervan is Hy en sy volgeling engele uit die hemel uitgewerp. Het God, wat vooruit kan sien, vooraf geweet dit sou gebeur? Was dit bedoel om ʼn illustrasie te wees vir dié wat God later by sy plan sou betrek? Een ding was nou duidelik: die toppunt van geskape wesens kon nie vertrou word nie. Dus kon geen geskape wese vertrou word nie. As God kinders wou hê in sy woning wat tot in ewigheid getrou sou wees, sou dit iets anders as geskape wesens moes wees. Geen mens, geen geskape wese, kan God met sy eie werke behaag of beïndruk nie. Satan was deur God geskape (al was hy nie as die Bose geskape nie). Engele is geskape wesens,en so ook Adam en Eva. Watter wesens is dan nie geskape nie? Ons sal later daarby uitkom. Maar eers moet ons stilstaan by die aard van die deursnee mens.
HOOFSTUK 2
WAT IS ʼn MENS?
Vir ons doeleindes is dit belangrik om die mens van naderby te beskou. Wat is ʼn mens?
Die eerste mens, Adam, is na die beeld van God geskape (Gen. 1:26). Daar sal teoloë wees wat hieroor verskil, maar God het ʼn vorm en ʼn voorkoms, en as dit so is glo ons dat die mens se liggaam in ooreenstemming is met die vorm van God se voorkoms. Daar is egter nog ʼnooreenstemming met God. God is gees. Anders as diere, het die mens ook ʼn gees - om die waarheid te sê, die mens is ʼn geestelike wese binne in ʼn vleeslike liggaam. Ek het vir baie jare die mens as ʼn tweeledige wese beskou: (1) gees/siel en (2) liggaam. Dit was gebasseer op die feit dat in die Ou Testament word die twee begrippe oor en weer gebruik, asof dit dieselfde ding is. God het later my oë oopgemaak om te sien dat progressiewe openbaring hier van toepassing is. Wat beteken dit? Dit beteken dat God met verloop van tyd sekere waarhede openbaar en duideliker gemaak het aan latere skrywers van Bybelboeke. Paulus was veral een aan wie God sekere geheimenisse openbaar het (Gal. 1:15-16, Kol. 1:24-26). In 1 Tes. 5:23 skryf Paulus:
...mag julle gees en siel en liggaam
geheel en al onberispelik bewaar word
by die wederkoms…. *
* Die Ou Afrikaanse vertaling word in die boek gebruik, behalwe waar anders aangedui.
Hier word gees en siel onderskei en die mens se drie elemente saam in dieselfde sin genoem. Let op die volgorde waarin dit genoem word:
(1) gees
(2) siel
(3) liggaam
Ons kom netnou terug hierna.
Die skrywer van die Brief aan die Hebreërs sê in 4:12: Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees...
Weereens is daar ʼn onderskeid tussen gees en siel. Die Woord is so skerp dat dit wel tussen die twee onderskei. In 1 Tes. 5:23 word die volgorde gegee van (1) gees, (2) siel en (3) liggaam. Die gees van die mens is die kern van sy menswees - die diepste deel van sy wese. Dit
is by sy gees waar sy identiteit lê. Die diepste bewussyn van die mens is potensieël gesetel in sy
gees. Kyk na 1 Kor. 2:11: Want wie van die mense weet wat in ʼn mens is behalwe die gees van die mens wat in hom is.
As jy nog nie oortuig is van hierdie waarheid nie, lees verder want dit sal weldra duideliker word. Die drie komponente kan so voorgestel word:
Daar is een probleem wat betref die gees van die mens wat die hele mensdom raak. Kom ons kyk daarna.
GEES SIEL LIGGAAM
2.