Home

About

Articles

Ons

Site Map

                                                                                                      6.

Christus Leef in My | Deelnemers Van Goddelike Natuur

Alexander is verafgood in die Oosterse lande wat hy verower het. Dit was ook ‘n algemene verskynsel by sy opvolgers en daaropvolgende konings. Heersers soos Koning Agrippa (Handelinge 25) en Antiogus Epifanes het hulself met sekere afgode geïdentifiseer en het selfs op hul muntstukke hulself as gode uitgebeeld. In Egipte is Ptolomeus en sy familie amptelik aanbid. Sedert Julius Caesar was verafgoding ‘n deeglik gereguleerde aspek van Romeinse beleid. Hellenistiese mistisisme, soos by uitstek uitgeleef in die misterie godsdienste, het daartoe geneig om die siel te identifiseer met goddelikheid. Hierdie konsep het oorgewaai na sekere vorme van Christelike mistisisme, met die gevolg dat die Christene se ware status- dié van lote, nie die Wingerd nie – afgeskeep is (Joh. 15:5).


Baie etniese godsdienste is gebasseer op die geloof in ‘n mens se begeerte om God te behaag en om homself te verenig met sy god. Hierdie konsep word by ‘n verskeidenheid van godsdienste teëgekom, van die idee dat die gelowige fisies een word met sy god soos in tweede eeuse Persiese Mithraïsme, tot die idee dat hy geestelik geabsorbeer word binne in ‘n goddelike teenwoordigheid soos in Boeddhisme. Hierdie soort van denke het dikwels ook neerslag gevind in die Christelike kerk sedert die dae van Neoplatonisme in die derde eeu, asook in die lering van mistikusse soos Meister Eckhart (1327). Verder blyk dit dat die idee van goddelke eenwording ook basies is vir die Rooms Katolieke siening van die wondtekens van Christus se lyding, naamlik die bloedwonde van die kruisiging wat na beweer word ook verskyn op die wat hulleself ten volle aan Cristus oorgegee het. Dit het waarskynlik ook ‘n vroëe invloed gehad op die leerstelling van die Mis. Ons vind dus hierdie eeue-oue idee wat in ons tydvak weerklank vind op verskeie terreine, van New Age aanhangers wat hulself voorstel as “medeskeppers” met God tot mense in afgeleë dorpe wat die Kruisiging heruitbeeld.


Die bybelse standpunt is radikaal anders as enige van hierdie idees en konsepte wat van godsdiens afkomstig is, want dit maak erns van twee grondliggende feite: die skepping en die sondeval. Mense is skepsels van God, en ‘n mens wat weliswaar in God se beeld is, is steeds nie ewigdurend, selfstandig of onafhanklik soos God nie (Joh. 5:26). Dis eerder so dat mense sterflik, aards ingestel en afhanklik is (Ps. 8:5). Dit beteken dat God nooit mens word nie, en mens nooit God word nie. Daar is dus ‘n kwalitatiewe metafisiese onderskeid tussen God en mens.


Daar is terselfdertyd ook ‘n etiese onderskeid om in gedagte te hou. Alhoewel die mens na God se beeld geskape is, toe hy homself probeer ophef tot gelykheid met God, het die mens, deur ongehoorsaamheid teenoor Hom, vanuit ‘n etiese oogpunt, bande met Hom verbreek (Rom. 5:12). Die mens is nou nie net verwyderd van God nie maar ook in konflik met Hom. Dus is die enigste eenwording wat die mens met God kan hê, deur God se ingryping om die mens tot Homself te versoen deur Christus. Die uitverkorenes van alle ewigheid af, is deur goddelike wilsbesluit verenig met Christus, in wie hulle gesterwe het aan die Kruis (Joh. 6:32-58; Gal. 2:20) en deur wie hulle nou lewe met Christus in hulle as hulle enigste lewe (Joh. 15:1; Kol. 1:27). Gedurende hulle aardse lewe, is gelowiges prinsipieël verenig met God deur Christus in hulle sodat hulle eties gesproke een met Hom word. Metafisies gesproke, bly hule egter steeds skepsels wat nooit goddelik sal word nie, nie in der ewigheid nie.


Ons Is Deelnemers Van Goddelike Natuur

Wedergebore Christene het deelgenote geword van die goddelike natuur (2 Pet. 1:4), en sodoende begin om ‘n wesenlike transformasie uit te leef, in teenstelling met bloot ‘n morele transformasie. “Deelgenote van die goddelike natuur” beteken dat ons nou God se karakter in ons het in plaas van Satan se sondige natuur. Gelowiges kon nie insien dat hulle enigste natuur die God-natuur is nie, want hulle het nog nooit besef dat die sondige natuur Satan se kenmerkende natuur was nie, en dat gedurende hulle hele ongelowige sondige lewensbestaan, hulle sy misleiding uitgeleef het.


Hier moet ons nou kennis neem dat daar geen menslike natuur is nie. Daar is ‘n menslike verstand, wat deur baie mense in die godsdienswêreld as ‘n refleksie van menslike natuur beskryf is. Die verstand is waar besluite gemaak word. Dis ‘n God-geskape plek, maar die verstand is nie ‘n natuur nie. Die natuur wat mense in sonde het, is basies ‘n natuur wat die eienskappe van Satan ten toon stel. Wanneer ‘n gelowige wedergebore word en ‘n deelnemer word van die goddelike natuur, is die vanselfsprekende gevolg daarvan dat hy nou die natuur van God binne-in hom het, met die vermoë om daardie dinge te doen wat God behaag en wat pas by die familie van God. Met die sondige natuur uit, en die God-natuur in, sal hierdie nuutgebore persoon begin ophou om te sondig en begin om te voldoen aan die wette van God deur liefde. Die gelowige, wat nou deur God wedergebore is tot ‘n nuwe gees en wat tot eenwording gekom het met die Gees van Christus wat nou in hom is, is nou vir die eerste keer in staat om die wil van God uit te leef. Voor hierdie wedergeboorte, was daar geen manier waarop ‘n sondaar die wil van God kon nakom of uitleef nie, want die sondaar was eintlik dood vir God en het ‘n wedergeboorte nodig gehad.


Aangesien daar nooit ‘n menslike natuur was nie, alhoewel die wêreld en veral baie in die godsdienswêreld dit luidkeels verkondig, is dit nodig vir die een wat wedergebore is om ‘n verstands- of gemoedsverandering te ondergaan. Paulus het gesê dat die gemoed of verstand vernuwe moet word (Rom. 12:2). Gelowiges vernuwe hulle verstand deur hulle daaglikse omgang met die Skrif en groeiende toewyding.


Geen Verwarring Meer Nie

Nêrens in die Skrif vind ons die konsep van “menslike natuur” nie. Ons het seer sekerlik nie geglo dat ons vergoddelik was toe ons nog die sondige natuur gehad het nie, alhoewel dit juis Satan se natuur was en ons sy kinders was. Ons as mense, is ook nie vergoddelik toe die omruil van Satan se natuur met God se natuur plaasgevind het nie. Dit was nooit God se bedoeling dat mense ‘n natuur van hulle eie sou hê nie, maar dit was God se bedoeling dat mense elkeen hulle eie verstand sou hê. As ons nie verstand verwar met ons eie natuur nie, dan is ons op pad om te wees waar God vir ons bedoel het om te wees as Christene. Ons is wedergebore in die familie van God waar Christus se gees ons gees word, en, in eenheid met Hom, groei ons op in Christus.


                                                                                                         6.


Laai hierdie artikel “Christus lewe in my.pdf” hier af.

Gaan na bladsy 1. 2. 3. 4. 5. 6. 7. 8.