Home

About

Articles

Ons

Site Map

Laai hierdie artikel “Christus lewe in my.pdf” hier af.

                                                           2.

Christus Leef in My

In hoofstukke 14-16 van Johannes se evangelie, het Jesus ten minste sewe keer duidelik genoem dat dit die doel van die inwoon van die Heilige Gees is om die gelowige te bring tot die kennis van die Christus-lewe, die nuwe verwekte lewe. Die Heilige Gees was nooit bedoel om daardie lewe te wees nie. Terwyl dit so mag wees dat die Heilige Gees die Een is wat die gelowige doop in Christus, is Hy nie die lewe of die gewer van lewe nie. Die ewige lewe is in die Seun (1 Joh. 5:11). Die gewer van daardie lewe is die Vader wat die seuns verwek deur Sy Saad, Christus, in hulle te plaas. Net die Heilige Gees kan hierdie feit duidelik maak vir die gelowige. Die gelowige moet kom tot ‘n verhouding met die Heilige Gees wat verder strek as bloot die plasing van die gelowige in Christus (1 Kor. 12:13). Hierdie verhouding met die Heilige Gees is noodsaaklik vir die gelowige se kennisname dat Christus alles is.

Christus Leef in My: Galasiërs 2:20

Ons kom nou by die tweede (en vir die doeleindes van hierdie bespreking, die finale) Bybelse ervaring vir gelowiges wat met God wil voortgaan tot die volheid van Christus: die Galasiërs 2:20 ervaring. In daardie vers skryf die Apostel Paulus: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in [of “van” – sien King James vertaling en Efes 2:8] die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.’

Hierdie vers skets die ontsagwekkende waarheid wat die Vader se uiteindelike oogmerk vervul – die oogmerk wat Hy uitgespreek het voor Hy enigiets in die wêreld geskep het (Efes. 1:4). Die gelowige kan alleenlik God se doel vir sy aardse lewe vervul deur tot ‘n insig te kom van Galasiërs 2:20 deur die lering van die Gees. Slegs dan sal die gelowige tot kennis kan kom van wie hy is deur die wedergeboorte. Daar is tans ‘n menigte opregte, geredde, wedergebore gelowiges in die wêreld wat nie weet wie hulle is deur hulle wedergeboorte nie. Gevolglik kom hulle nooit tot die volheid van Christus, of die oogmerk van God vir hulle lewens nie.

Omdat Paulus in Galasiërs 2:20 sê: “Christus leef in my,” is daar ‘n behoefte vir ‘n vars insig van wie die gelowige is. ‘n Nuwe konsep en bewustheid van ‘n nuwe verhouding met God is ook noodsaaklik. “Christus leef in my” beteken dat ‘n verenigingsproses plaasvind wat menslike beskrywing te bowe gaan. Dit is die verstaan van hierdie eenwording wat mens bring by dit wat God so na aan die hart lê. Ons kan nou sien dat ons Vader nie slegs mense gered of wedergebore wil hê nie, of om vir Hom te lewe nie. Hy wil meer hê. Die uiteindelike oogmerk van die God van liefde is dat die natuur wat in die gelowige geplaas is, die God-natuur, ‘n eenheid en totale eenwording voortbring sodat die gelowige ‘n Vader-seun verhouding vlekkeloos uitleef.

Galasiërs 2:20 sê dat “ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” Baie mense wat al die Christus-lewe lering gehoor het, vertolk hierdie vers asof dit sê: “Christus leef in my as ek.” Dit is weliswaar ‘n korrekte vertolking, maar dit moet altyd behoorlik verduidelik word, want baie sal struikel omdat hulle nie die Heilige Gees het om hulle te onderrig wie en wat hulle is deur Christus, wat in hulle is nie. Dus, met die uitdra van die Christus-lewe boodskap, is ons versigtig oor hoe ons dit verklaar. Die stelling “Christus leef in my as ek” beteken hoegenaamd nie dat gelowiges Christus word nie of dat Christus gelowiges word nie.


Wat dit beteken, is dat Christus wat inwoon in die gelowige, tevoorskyn kom uit die gelowige soos God die gelowige in die eerste plek geskape het (Gen. 1:27). Eenvoudig gestel, beteken dit dat Christus in ons, as ons lewe, uit ons na vore kom soos ons geskape is. Met dit in gedagte, beeld die Skrif nou uit wat ons glo God se hele oogmerk in die Woord is. Sy oogmerk was baie duidelik dat Hy vir Homself ‘n nuwe volk sou verwek wat ons nou die “nuwe skepping ras” noem. Soos Paulus skryf in 2 Korinthiërs 5:17: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel…” Hierdie “nuwe skepping ras” sou God se natuur inkry deur die verwekking van die Gees van Christus in hulle, en die mense sou God se opregte gebore afstammelinge wees.  Hulle sou nie Israeliete of Jode wees nie (Gal. 3:28); hulle sou hoegenaamd nie aardse mense wees nie, maar wel ‘n geestelike ras van mense wat deur God opgerig is om Sy hartsverlange te vervul.


Die Wedergeboorte en die Vader-Gees van God

Noudat ons ‘n algemene oorsig gehad het van Joh. 3:16 en Gal. 2:20; is dit belangrik om God se oogmerk om hierdie spesiale mensras voort te bring, van naderby te bekyk. Die oogmerk word op verkeie maniere deur die Skrif toegelig. Om die wedergeboorte te kan verstaan en hoe Christus leef in elke wedergebore gelowige, verg dat ‘n paar kwessies van naderby beskou word. Al hierdie kwessies vloei voort uit een enkele behoefte wat God gehad het voor die skepping van die wêreld.

Iets merkwaardigs omtrent die Almagtige God is dat Hy ook Vader is. Vir iemand om vader te wees, moet hy kinders hê. In God se vorige bestel, nog voor God se plan vir ons in werking gestel is in Genesis 1, het God Lucifer die erfgenaam en heerser gemaak oor alles wat Hy het. Hierdie daad was ooglopend ‘n illustrasie van die vader-gees in God wat smag na ‘n verhouding met ‘n skepsel. In Jesaja 14:12 (Nuwe Lewende Vertaling) word Lucifer genoem “seun van die more.” Dus het God as Vader wat ‘n seun wil hê, in gedagte gehad om Lucifer in die posisie van ‘n seun te plaas – maar nie as seun te verwek nie. Hierdie punt is so belangrik dat dit herhaling regverdig: God het Lucifer in die posisie geplaas – Hy het hom nie verwek as ‘n seun nie. Lucifer het uiteindelik vir God in die steek gelaat, wat die Vader sy vermoë om Sy vader-gees uit te leef, ontneem het.

Een belangrike waarheid wat uit hierdie verhouding met Lucifer na vore getree het, is dat die Vader besef het dat Hy  nooit ‘n geskape wese kan vertrou om te wees soos wat Hy wou hê nie. Wat God  toe beskik het, word duidelik verklaar in Efesiërs 1:4: “… soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees…” Hy het die menslike ras uitverkies om in Christus te wees. Hy kon natuurlik  nie die menslike ras maak om in Christus te wees nie. Hy sou eerder wag vir daardie gelowiges wat behoefte ervaar vir ‘n Verlosser, om deur die Heilige Gees getrek te word en te glo in die Here Jesus Christus, en sodoende hiedie verhouding met God te hê.


Dit was God se oogmerk voor die grondlegging van die wêreld om ‘n ander plan uit te werk, aangesien Hy nie ‘n geskape wese kon vertrou nie. Hy sou werk met ‘n geskape wese met die vermoë om keuses te maak, anders sou daar geen liefde wees nie. Dit is alleenlik deur keuses dat liefde getoon kan word, en dit was wat die God-vader wou hê:  liefde.

                                                                                                      2.


Gaan na bladsy 1. 2. 3. 4. 5. 6. 7. 8.