Die Belangrikste Boodskap van God


Deur Johann Grobler


Wat is die sentrale gedagte van die Bybel? Die sentrale gedagte van die Bybel is ook die heel belangrikste boodskap wat God vir die mens het.  Dit maak mos sin. Waarom sal God al die moeite doen om die Bybel te inspireer en oor eeue getrou te preserveer as dit nie wesenlik sy sentrale boodskap kommunikeer nie.


Talle teoloë het al geworstel en geskryf oor wat die sentrale gedagte van die Bybel is. Party sê dis die koninkryk van God, ander sê dit is die genade van God, ander sê dis God se versoening met die mens, en ander sê daar is eintlik nie een sentrale gedagte nie. Maar daar is – soos jy weldra sal sien.


God het Paulus gebruik om byna 30% van die inhoud van die Nuwe Testament te skryf – meer as enigiemand anders. (Dit is as ons aanvaar dat hy ook Hebreërs geskryf het).  Die persoon wat naaste daaraan kom is Lukas.  God het egter deur Paulus groot en gewigtige teologiese stellings gemaak, terwyl Lukas (wat Lukas en Handelinge geskryf het) bloot op skrif gestel het wat hy ervaar en deur ooggetuies verneem het. Paulus was die een aan wie God sekere geheimenisse openbaar het, meer as enigiemand anders van daardie tydvak. En daardie geheimenisse, sal ons weldra sien, hou verband met die sentrale gedagte van die Bybel.


In Gal 1:15-16 staan:

Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het, om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie...


En in Efes 3:3:

... dat Hy aan my deur ‘n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek tevore kortliks geskryf het....  


Wat is die verborgenheid of geheimenis waarvan Paulus praat? Die teksgedeelte wat dit die duidelikste maak is Kol. 1:26-27:  Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was maar wat nou geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle [Christus leef in julle – NLV], Hy is julle hoop op die heerlikheid. [1983 vertaling].


Die uitdrukking “in Christus” of “in Hom” kom meer as 200 keer voor in die Bybel. In 146 gevalle verwys dit na die eenwording tussen ‘n gelowige en Christus wat in hom woon. Daar is miljoene gelowiges wat die implikases hiervan nie besef nie. Ekself het vir veertig jaar bo-oor hierdie woorde “in Christus” gelees en nie veel aandag daaraan gegee nie, want ek het gedink dit is maar Paulus se breedsprakige skryfstyl. Daar is egter enorme betekenis verskuil in daardie uitdrukking – soos jy later sal sien.


Vir Paulus sentreer alles om Christus, want hy kon insien dat vir God die Vader, sentreer alles om Christus, want Hy het dit so beskik. So lees ons:


... want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus..... (1 Kor. 2:2)


Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag.  (Fil. 3:7)


Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. (Fil.1 :21)


Daarom het God hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is... (Fil. 2:9-10).


Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge en in Hom hou alle dinge stand. En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon... (Kol. 1:15-19).


Paulus sê Christus is die lewe van die gelowige (Kol. 3:4); Hy is “alles in elkeen” van die gelowiges (Kol. 3:11 – NLV). Dit is baie wyd gestel. Die Bybel gee hier en daar ‘n vinnige kykie na wat dit alles behels. Hy is die Begin en Voleinder van die geloof (Hebr 12:2); die wysheid en geregtigheid, heiligmaking en verlossing van die gelowige

(1 Kor. 1:30); die vrede (Efes. 2:14), die hoop (1 Tim. 1:1), die lig wat skyn (Joh 1:19), die krag van God (1 Kor 1:24) vir elke gelowige. Christus staan aan die hoof van alle hemelse en aardse magte en die gelowige is een met Hom en is volledig in Hom (Kol. 2:9-10).


Mens kan maklik baie vinnig hierdie teksgedeeltes deurlees sonder om die betekenis en implikasies daarvan in te neem. Dit is soos iemand wat met ‘n straler vlieg van Suid Afrika na Europa op ‘n vlug wat hom vat  oor sentraal en Noord Afrika en oor die Middelandse See en dan sê hy: “ja ek was al in sentraal Afrika; ek was al by die Middelandse See – ek het dit al gesien.”


Om eerlik te wees, dis onmoontlik om vir enigeen ten volle die betekenis en omvang van hierdie waarhede te verduidelik – dis te allesomvattend en te groots. Slegs die Heilige Gees kan dit duidelik maak – en selfs dit is ‘n proses. Ek wil my verstout om te sê dat selfs nadat ons lank in Sy teenwoordigheid was in die hemel, ons steeds sal groei in ons begrip van die dinge en nooit in der ewigheid die versadigingspunt sal bereik nie. (Ons weet dat selfs die engele wat al lank God se teenwoordigheid ervaar, nog vol entoesiasme is om nog meer en meer te leer – Hebr. 1:12).


Maar hoekom is Christus die spilpunt waarom alles draai?  En wat  presies bedoel ons  by “in Christus”?


Vir die antwoord moet ons gaan na reg aan die begin. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. ... Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe.” (Joh. 1:1-4). Die Woord (Grieks: logos) is Christus. Hy was van die begin af die Skepper en God.  Van die begin af – “voor die grondlegging van die wêreld” was daar volmaakte liefde tussen die Vader en Christus, die Seun (Joh. 17:24).


Daar is, benewens Joh. 17:24, twee ander tekste wat die uitdrukking bevat: “voor die grondlegging van die wêreld”: Joh. 17:24, Efes. 1:4, 1 Pet. 1:20. Dan is daar verskeie tekste wat verwys na “van [sedert] die grondlegging van die wêreld”, bv. Mat 25:34, Luk. 11:50, Heb. 4:3, 9:26; Openb 13:8, 17:8.


Daar is klaarblyklik by God die begeerte om kinders te hê wat in sy huis woon. Kinders vir wie Hy lief kan wees en wat vir ewig vir Hom lief en teenoor Hom lojaal sal wees, sy heerlikheid sal geniet en ervaar en Hom verheerlik.  Hulle sal Hom verheerlik, nie omdat Hy andere se lofprysing nodig het nie, maar omdat die wat ervaar en beleef vir wie Hy werklik is, so oorweldig is daardeur dat lofprysing spontaan met euforiese blydskap uitgebulder sal word. God is liefde – en deel daarvan is sy begeerte om die genot  en glorie van sy wese en sy teenwoordigheid met andere te deel in ‘n ewigdurende intieme liefdesvehouding. Hierdie “andere” sal in ‘n huweliksverhouding wees met sy Seun (Efes. 5:31-32), en sal sy kinders wees (1 Joh 3:1).


Een van die pragtigste skeppings van Christus was ‘n spesiale engel wat genoem word “morester, seun van die dageraad” (Hebreeus: Lucifer) (Jes. 14:12). Die prag van hierdie wese word beskryf in Esegiël 28: 12 -14. Hy word beskryf as “volmaak in skoonheid”. Christus het hom gemaak met allerhande edelgesteentes as sy bedekking. Hy was perfek in alles wat hy gedoen het (Eseg. 28:15).


Hier was ‘n volmaakte skepsel, klaarblyklik die toppunt van God se skeppingswerk, wat hom in die hoogste hemel bevind en God se nabye teenwoordigheid en Sy heerlikheid geniet. Hier was die volmaakte skepsel (super intelligent en majestieus in gestalte) in die volmaakte wêreld. Maar hy was geskep met vrye wil. En ongelukkig het hy, wat aanvanklik lojaal was teenoor sy Skepper, later gerebelleer (Eseg. 28:15) en ‘n derde van die engele verlei om saam met hom te gaan.



Toe skep God die fisiese hemele en aarde (die uitspansel) en skep die mens na Sy beeld en gelykenis. Die mens se liggaam is uit die stof van die aarde gevorm en sy siel deur God se lewensasem daargestel. Die mens het ook vrye keuse gehad.  God het die mens vrye keuse gegee om van al die bome se vrugte te eet, insluitende die boom van die lewe, buiten vir een boom: die boom van die kennis van goed en kwaad.  Toe kom Satan in die vorm van ‘n slang en verlei die mens om teen God te gaan.


Al hierdie gebeure wys na Christus.  God het geweet van die begin af dat Lucifer en Adam nie altyd getrou sou wees nie.  God het besef, en hierdie gebeure dien as illustrasie daarvan, dat niemand God vir altyd kan behaag nie – selfs nie die volmaakte engel of die volmaakte mens in volmaakte omstandighede nie. Die enigste manier wat God kan waarborg en daarop kan peiltrek dat kinders saam met Hom vir ewig in liefde en harmonie sal woon, is as hy iets van Homself in daardie wese of persoon plaas.


Om dit te kon bewerkstellig moes Christus (die Lam) as offer sterf vir die hele mensdom. Dit is dan so bepaal in God se raadsplan voor die grondlegging van die wêreld (1 Pet. 1:19-20).  Dit is vervul toe Jesus Christus inderdaad aan die kruis gesterf het. Van toe af kon God die Vader deur die wedergeboorte sy onverganklike sondelose saad, wat sy natuur insluit, deur die persoon van Christus plaas in ‘n mens. So ‘n persoon het ‘n nuwe natuur, ‘n goddelike natuur (2 Pet. 1:4) wat nie meer kan sondig nie (1 Joh. 3:9).  Hy is in Christus en Christus is ook in Hom (Joh. 14:20). Enige wedergeborene wat daarna sondig, sondig eintlik nie meer nie (Rom. 7:17). Sou daar enige sonde wees, is dit dit a.g.v. die sonde wat nog in sy liggaam of siel woon (bv slegte gewoontes) (Rom. 7:20, 23) maar nie a.g.v sy gees nie, want Christus het sy gees lewend gemaak en dit is waar sy ware identiteit lê - in Christus – ‘n nuwe skepsel (2 Kor. 5:17).  (Sien die aanhangsel wat siel en gees onderskei, asook die Heilige Gees en die Gees van Christus).


Dit is belangrik om te weet: daar is geen manier waarop ‘n mens God kan behaag of homself geestelik kan laat groei nie.  Daar is geen werke wat ‘n mens doen wat God beïndruk nie.  Dit is hoekom Christus in ‘n mens moet woon. Dan is dit Christus wat deur daardie person leef. Daarom sê Paulus: “Ek leef nie meer nie, maar Christus leef  in my” (Gal. 2:20).  Baie Christene besef nie die waarheid nie, of neem dit nie ernstig genoeg op nie. Baie onderdruk die werking van die Heilige Gees om Christus se karakter spontaan te laat uitvloei.  Die sleutel is nie om langer ure te bid of meer te vas of enige ander werke nie. Die sleutel is om te weet dat God reeds alles wat nodig is aan die kruis volbring het; dat God nou al alles aan ons gegee het wat ons nodig het om Hom te behaag.


                                                                                                         1.


Gaan na bladsy 1. 2.

Home

About

Articles

Ons

Site Map

Afrikaans Video - Video 1